OUDTSHOORN NUUS - Rodney Swigelaar, 'n oudleerder van Bridgton Senior Sekondêr, het vandeesweek kriekettoerusting ter waarde van R20 000 aan sy voormalige skool geskenk.
Sy pa, Simon Swigelaar (erelid van Union Stars-krieketklub en Krieket SA), het die oorhandiging namens hom gedoen. Volgens Swigelaar word hierdie skenking ter ere van sy ontslape vrou gedoen. Tydens die oorhandiging het Swigelaar beklemtoon dat groot krieketgeeste in die verlede reeds uit BSS geledere ontwikkel het.
"In vandag se era kan enigiemand 'n suksesvolle loopbaan uit krieket maak ongeag jou ras of agtergrond."
"My boodskap aan hierdie jong krieketspelers is om dié kriekettoerusting te gebruik om doelgerig aan hul vaardighede te slyp sodat hulle eendag dalk vir die Protea-krieketspan kan uitdraf, het hy gesê.
Kelvin Ellis, skoolhoof van BSS, het Rodney Swigelaar bedank vir sy voortgesette ondersteuning. "Met hierdie kwaliteit kriekettoerusting hoop ons om kwaliteit krieketspel te lewer wat ons skool se naam sal hooghou."
Simon Swigelaar (regs) oorhandig die kriekettoerusting ter waarde van R20 000 aan Bridgton Senior Sekondêr se o.19A-krieketspan. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'