OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-kliniek het verlede week 'n babakompetisie vir kinders tussen een maand en twee jaar oud aangebied.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het 25 kinders aan die kompetisie deelgeneem.
Beoordelaars het die moeilike taak gehad om drie wenners in die verskillende kategorieë te kies.
Die kategorieë was 0 - 6 maande, 6 - 12 maande en 12 - 24 maande.
"Die kompetisie is gehou as deel van die “First Thousand Days”, ’n inisiatief van die Wes-Kaapse gesondheidsheidsdepartement en maatskaplike ontwikkeling wat poog om die gemeenskap bewus te maak van die belangrikheid van die eerste 1 000 dae van ’n baba se lewe, wat strek vanaf die begin van jou swangerskap tot die tweede lewensjaar van die kind," het sy gesê.
Tydens die kompetisie is ouers ingelig oor die belangrikheid van borsvoeding en stimulering van die kind gedurende hierdie belangrike tydperk.
“Kinders kan vergelyk word met ‘n klein blommetjie. Ons moet daardie blommetjie gereeld water, aandag en liefde gee om te blom. Dt is lekker om pappas ook hier te sien met hul kinders aangesien hulle, waar moontlik, net so betrokke soos die ma moet wees by hul kinders. Vaders moet net soos moeders van kleins af vir hul kinders lees, met hulle speel, en hulle baie liefde en aandag gee. Dit alles dra by tot die groei en ontwikkeling van ’n gelukkige, gesonde kind," het dieëtkundige Elana Marais gesê.
Kira George (0 - 6 maande wenner) en haar ma.
Reeve Rhodes (6 - 12 maande wenner) en sy ma.
Elke kategorie het sy eie kriteria gehad. Kriteria het ingesluit die ma se kennis oor die korrekte voeding, die suiker-sout-oplossing en dan ook die ontwikkeling van die kind. Kinders moes sekere goed kon doen vir hul ouderdom, soos ratels vashou, reageer op klank, ens.
Die wenners was:
- 0 - 6 maande: Kira George (wenner), Adele Frans (2de plek) en Schanica Michaels (3de plek).
- 6 - 12 maande: Reeve Rhodes (wenner), Melissa Carelse (2de plek) en Deago Malgas (3de plek).
- 12 - 24 maande: Jeanette Titus (wenner), Tameeka Botha (2de plek) en Waynique Morris (3de plek)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'