OUDTSHOORN NUUS - Brian Daniels het onlangs wyd en syd naam gemaak toe hy van die Klein-Karoo tot in die Kaap gestap het. Met hierdie onbaatsugtige daad het Daniels geld vir die Rooikruis-kinderhospitaal ingesamel.
Op 7 November het Daniels weer aandag getrek toe hy vertel het dat hy al van 1994 'n ongelooflike 118 eenhede bloed geskenk het.
Volgens Daniels is sy bloedgroep O+ en is dit feitlik vir enigiemand geskik.
"Die bloedbankdienste het destyds Oudtshoorn-polisiekollege besoek en ek het geweet dat bloedskenk iets is wat ek graag wil doen," vertel hy.
Sy oudste kind het van jongs af gereeld saam met hom gegaan en vertel hy trots dat sy nou as volwasse ook bloed skenk. "Ek neem nou my jongste ook saam en hoop dat sy ook eendag 'n skenker sal word."
Daniels sien hierdie daad as 'n diens wat hy aan sy medemens lewer en volgens hom kan drie lewens uit een enkele skenking gered word. "Ek sal skenk tot ek nie meer mag of kan nie."
Daniels nooi almal uit om bloed te skenk en vertel dat met jou aankoms by die kliniek jy 'n persoonlike vraelys voltooi oor jou gesondheid, jou ystervlakke getoets word en as alles in orde is, neem dit minder as 'n halfuur om 'n eenheid bloed te skenk.
"Nadat jy bloed geskenk het kan jy koekies en iets te drinke geniet. Jy ontvang ook na elke vierde skenking 'n geskenk van die bloedbankdiens."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'