KLEIN KAROO NUUS - Die kwalifikasies van Kannaland-munisipaliteit se topamptenare het onder skoot gekom nadat 'n brief wat in dié gemeenskap gesirkuleer is, dié aanstellings bevraagteken op grond van toepaslike kwalifikasies.
Dié gewraakte brief, wat in Oudtshoorn Courant se besit is, vra spesifiek vrae oor Jerome Booysen (waarnemende finansiële hoof), Hendrik Barnard (munisipale bestuurder), Morné Hoogbaardt (waarnemende direkteur van tegniese dienste en infrastruktuur), Reginald Timmie (waarnemende direkteur van korporatiewe dienste) en Petrus Roodtman (Calitzdorp-dorpbestuurder) se bevoegdheid.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering het by navrae so gereageer oor dié twyfelagtige aanstellings:
"Booysen beskik wel oor die nodige kwalifikasies en ondervinding soos voorgeskryf. Barnard beskik oor die minimum vereistes en ondervinding soos voorgeskryf. Hoogbaardt het nie die nodige kwalifikasies vir sy pos nie, maar wel vir die pos van waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste. Timmie beskik nie oor die nodige kwalifikasie vir die pos nie.
Met bogenoemde as riglyn, beveel minister Bredell verder aan dat Barnard tydelik vir drie maande as waarnemende munisipale bestuurder aangestel word - dieselfde geld vir Booysen in sy huidige pos."
Bredell het Kannaland-munisipaliteit in dié skrywe ook versoek om hierdie situasie stiptelik aan te spreek en spoedig aan hom terug te rapporteer.
Verder het Bredell die munisipaliteit opdrag gegee om self Roodtman se aanstelling as dorpsbestuurder in Calitzdorp, te hanteer.
By navrae het Barnard die versekering gegee dat die situasie vandeesweek dringend aangespreek sal word.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'