Update
OUDTSHOORN NUUS - Die brandbestryder van Working on Fire wat tydens die brand in die Kammanassieberge in sy brandweervoertuig vasgekeer was en ernstige brandwonde opgedoen het, het verlede week weens sy beserings beswyk.
Gert Wilskut (64) van Uniondale, het op 8 Februarie ernstige brandwonde opgedoen terwyl hy saam met 'n brandspan gepoog het om die vuur in die berg van woonhuise weg te hou.
Die brandweervoertuig waarmee hy gery het is deur die vlamme verswelg.
Wilskut het derdegraadse brandwonde aan sy arm en tweedegraadse brandwonde aan sy gesig opgedoen.
Hy is per ambulans na die Uniondale-hospitaal geneem en vandaar per helikopter na George-MediClinic oorgeplaas, waar hy op 20 Februarie aan sy beserings beswyk het.
"Oom Gert se toewyding tot sy werk, en sy bereidwilligheid om te leer en te onderrig, sy respek vir ander, sy omgee vir die natuur, en sy wonderlike sin vir humor was legendaries," sê Lauren Howard, woordvoerder van Working on Fire in die Wes-Kaap.
"Ek het die voorreg gehad om saam met oom Gert te werk," het Wayne Young, 'n voormalige brandweerman, op Facebook gesê.
"Ek het jare lank saam met hom in Uniondale gewerk en ons sal hom mis. Hy was 'n toegewyde kollega wat sy lewe verloor het in die uitvoer van sy taak."
Die brandende voertuig waarin die oorledene vasgekeer was.
Wilskut, oorspronklik van Willowmore, het op 1 Maart 2006 by Working on Fire aangesluit. Hy laat sy lewensmaat, 'n stiefdogter, twee susters en 'n broer agter.
Die brande waarteen die oorledene en talle brandbestryders geveg het, het 20 dae lank in die Swartberge en Kammanassie gewoed nadat dit op 22 Januarie deur weerlig veroorsaak is.
Die brande is op 11 Februarie finaal onder beheer gebring nadat sowat 12 207 ha natuurlike veld in die Kammanassieberge en nagenoeg 20 293 ha in die Swartberge in die slag gebly het.
Die brandende voertuig waarin die oorledene vasgekeer was.
Lees verwante artikel: Brand eis sy tol
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'