OUDTSHOORN NUUS - 'n Verwoestende brand het verlede Saterdagmiddag sewe opslaanhutte op 'n erf in Polisiehoogte agter die Thusong-sentrum verswelg.
Daar was nege opslaanhutte op die erf waarvan sewe met die inhoud tot op die grond afgebrand het.
Volgens Daymon Ewerts, 'n ooggetuie en inwoner op die erf, moes die brand buite die erf ontstaan het waarna die wind dit na die opslaanhutte versprei het.
"Dit is al verduideliking wat ek vir die media kan gee omdat net een van die hutte se eienaars tuis was toe die brand uitgebreek het.
"Ek het gesien hoe hy uitgehardloop het om te kyk waar die vlamme vandaan kom.
"Dis toe dat ons albei besef dat die vlamme omtrent vier meter hoog agter sy hut brand." Volgens hom het almal wat op die erf was, vergeefs probeer om die brand met water en sand te blus, maar die wind het die vlamme baie vinnig versprei. Een van die inwoners se Mazda-bakkie is ook deur die brand verwoes.
"As die wind nie so sterk gewaai het nie sou ons beslis die skade kon beperk," het Ewerts gesê.
Ewerts het die Oudtshoorn-brandweerdienste bedank vir hul flink optrede.
Hy is van mening dat die hoofwoning en die twee oorblywende hutte op die erf ook in die slag sou gebly het as dit nie vir die vinnige optrede van die brandweer was nie.
Die Oudtshoorn-munisipalitiet het splinternuwe boumateriaal vir die slagoffers dieselfde dag afgelewer.
Met die Oudtshoorn Courant se aankoms op die toneel Saterdag was die Oudtshoorn-munisipaliteit reeds besig om materiaal vir die oprigting van ander strukture aan die slagoffers uit te deel.
Kospakkies, klere en meubels is ook intussen deur barmhagtige samaritane vir die 16 slagoffers van die brand verskaf.
Niemand is gedurende die brand beseer nie.
'n Mazda-bakkie wat op die erf geparkeer was het ook uitgebrand. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'