OUDTSHOORN NUUS - ‘n Gebou met tweedehandse klere en –meubels in Nuwestraat is Vrydagmiddag, 23 November, deur ‘n brand verwoes.
Volgens lede van die brandweer was die gebou gesluit toe die brand ontstaan het. ‘n Groep mans wat in die omgewing van die gebou was, het die traliehek en die deur oopgebreek voordat die brandweer opgedaag het.
Die ekstra suurstof wat deur die oopdeur ingestroom het, het die brand vinniger na die dak laat versprei. Danksy die vinnige optrede van die brandweer is verhoed dat die aangrensende woning van ‘n vrou, Cornelia Porter, aan die agterkant van die gebou aan die brand slaan. Porter het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat sy op ‘n rusbank in haar sitkamer gelê en slaap het toe sy ‘n harde plofslag hoor.
“Ek het na die kombuis gehardloop en gesien die venster is bloedrooi. Ek het toe gedink dat ek die broodrooster aangelos het maar gesien dat dit af was. “Dit is toe dat ek deur die venster die vlamme sien. Ek het my voëltjie gegryp en by die voordeur uitgehardloop.”
Die gebou was voorheen die perseel van ‘n begrafnisonderneming, maar was tydens die brand as ‘n tweedehandse winkel aangewend. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Die gebou was voorheen die perseel van ‘n begrafnisonderneming.
Volgens lede van die brandweer was die gebou gesluit toe die brand ontstaan het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'