OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R500 is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan elk van vier mans wat saam met 'n jeugdige aangekla word van poging tot moord.
Justin Jansen (27), sy pa, George Jansen (60), Bradley Olivier (33) en Marlon Timmie (20) word saam met ’n 17-jarige jeugdige daarvan aangekla dat hulle op 8 Augustus vanjaar vir Isaac Jaftha in Oklahamastraat met die vuiste geslaan, geskop, met 'n mes gesteek en met 'n baksteen gegooi het.
Die vier applikante het tydens die aansoek getuig dat hulle nie die klaer ken nie en onskuldig sal pleit.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie en landdros Vaughn Shone het, op voorwaarde dat die vyf nie by verdere misdaad betrokke raak nie, borgtog toegestaan.
Die jeugdige is in die sorg van sy voog vrygelaat.
In ‘n afsonderlike saak, waarin Justin Jansen ook van poging tot moord aangekla word, is ook borgtog van R500 aan hom toegestaan.
Hy het na bewering op dieselfde dag vir Jacobus Prinsloo met 'n baksteen teen sy kop gegooi.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'