OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R500 is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n man wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla word terwyl hy op parool was.
William Jansen (41) word daarvan aangekla dat hy Gailiano Dondas (20) met die vuis geslaan het terwyl hy 'n mes in sy ander hand vasgehou het.
Phillip Seroux, voorsitter van die plaaslike dwelmkomitee, en Pat Blaauw, voorsitter van die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum, het ter steun van borgtog vir Williams getuig dat hy na sy vrylating op parool onmiddellik by die komitee en die forum ingeskakel het om ‘n bydrae te lewer tot die bekamping van misdaad. Hy is ‘n veeboer wat ook gereeld slaggoed vir projekte in die gemeenskap skenk.
In die huidige saak teen hom het hy glo tussenbeide getree toe die klaer na bewering iemand beroof het.
Die ondersoekbeampte, ao. Piet Henricks, sowel as die staatsaanklaer, Leandro Rhodes, het nie borgtog teengestaan nie, alhoewel dit die derde keer is dat Williams sy paroolvoorwaardes na ‘n vonnis van 15 jaar vir moord verbreek het.
Volgens Hendricks bestaan daar nie vrese dat die beskuldigde van die hof sal wegbly of die klaer en getuies sal probeer beïnvloed nie.
Williams se regsverteenwoordiger het aangevoer dat hy eerlik was met die hof en vir homself werk.
Landdros Vaughn Shone het bevind dat borgtog wel in belang van geregtigheid toegestaan kan word en die saak vir verdere ondersoek tot 2 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'