OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R1 000 is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n man van Smartie Town wat van moord aangekla word.
Die 28-jarige Stanley John het in sy borgtogaansoek aangedui dat hy onskuldig sal pleit op die aanklag dat hy op Sondag 7 Oktober vir Lionel (Toebaai) Johannes, in Johan Gelderbloemlaan vermoor het.
Hy sal erken dat hy Johannes met 'n mes gesteek het, maar dat dit uit selfverdediging was.
Landdros Theo-lin November het borgtog aan John toegestaan op voorwaarde dat hy nie kontak maak met drie staatsgetuies nie, hom weerhou van verdere misdaad, nie Oudtshoorn of Suid-Afrika verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie en by sy suster in Bongolethu inwoon totdat die saak afgehandel is.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 16 November uitgestel.
Die staatsaanklaer Thuba Nyamate, het nie borgtog teengestaan nie omdat John geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom het nie en oor 'n vaste werk en adres beskik.
Adv. Stoffel Prinsloo verskyn namens die beskuldigde.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'