OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is Vrydag in die landdroshof geweier aan 'n man van Dysselsdorp met 21 vorige veroordelings wat weer teregstaan op klagtes van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die 44-jarige Christopher Claassen word daarvan aangekla dat hy vir Jullian Moos, 'n groentesmous, van sy pampoene en R300 kontant beroof en met 'n panga teen die wang gekap het.
Hy het op dieselfde dag glo vier keer met 'n byl na Robin Jacobs gekap.
Claassen, 'n pa van sewe kinders, het om borgtog aansoek gedoen omdat die sel waarin hy aangehou word oorvol is met altesaam 44 verhoorafwagtendes en sy gesondheid daaronder ly.
Die kos wat vir hulle gebring word is ook nie genoeg vir almal nie. Hy het voorts aan die hof gesê dat hy weer 'n vader vir sy sewe kinders wil wees.
Op'n vraag van die landdros of hy nie weer by misdaad betrokke sal word nie het hy geatwoord dat hy dit nie 100% kan waarborg nie. Hy wil egter vir sy kinders gaan werk omdat hy 'n finansiële las vir sy familie is en ook bekommerd is oor sy huis waar daar al by twee geleenthede sedert sy arrestasie ingebreek is.
Hy het die hof ook die versekering gegee dat hy nie meer so aggressief soos voorheen is nie. "Ek het dit al in 2013 oorwin," het hy gesê.
Landdros Theolin November het dit egter aan Claassen gestel dat hy nog nooit werklik besef het wat dit is om 'n vader vir sy kinders te wees nie. Die ondersoekbeampte, ao. Ettienne Kuün, het borgtog teengestaan omdat die klaers vrees dat Claassen hulle weer sal aanrand.
Die staatsaanklaer, Tabu Nyamatu, het ook borgtog teengestaan omdat Claassen vanweë sy misdaadrekord waarskynlik weer by misdaad betrokke kan raak. Sy regshulpprokureur, Jacques Malan, het vir borgtog gevra omdat hy nie 'n vlugrisiko is nie, oor 'n vaste adres beskik en geen getuienis voor die hof is dat hy die ondersoek sal belemmer nie.
Die landdros het egter borgtog geweier omdat vrese bestaan dat Claassen weer by misdaad betrokke kan raak.
"Ek dink die lewens van die res van Dysselsdorp se gemeenskap sal ook in gevaar wees en dat hulle moontlik in oproer kan kom," het die landdros gesê.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 3 Februarie uitgestel,
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'