OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof aan Renier Claassen (33), geweier. Hy is een van die twee beskuldigdes wat daarvan aangekla word dat hulle 'n 62-jarige vrou in haar woonstel in St. Georgestraat met die dood gedreig, beroof en met haar motor op die vlug geslaan het. Die voorval het op 19 Oktober plaasgevind.
Hy word saam met Ruan Nel (25) aangehou wat ten tyde van die beweerde voorval op parool was en nie om borgtog aansoek kan doen nie.
Sy parool is met hul eerste verskyning ingetrek.
Claassen het Maandag aangedui dat hy onskuldig sal pleit en om borgtog aansoek doen omdat sy moeder met kanker gediagnoseer is en hy by sy kind wil uitkom.
"Ek is onskuldig in die saak," het hy aan die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, gesê.
Die ondersoekbeampte, ao. Wessels Bower, het borgtog teengestaan omdat Claassen, volgens hom, 'n geneigdheid toon om misdaad te pleeg.
Volgens Bower kan nog klagtes, een van roof en een van diefstal uit 'n voertuig, tot die klagstaat gevoeg word.
"Die klaer in die saak vrees vir haar lewe en slaap elke aand by ander mense. Sy is erg getraumatiseer," het Bower getuig.
Volgens hom verbind beeldmateriaal, wat in die polisie se besit is, vir Claassen met die misdaad.
Daar kan gesien word hoe hy by 'n kitsbank by 'n vulstasie net buite Oudtshoorn uit 'n motor klim om vermoedelik geld te gaan onttrek uit die rekening van die klaer.
Die transaksie was egter onsuksesvol en die bankkaart is later naby die kitsbank opgetel.
Claassen se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof om borgtog gevra omdat die klaer net vir Nel geïdentifiseer het. Sy kon wel hoor hoe hy met iemand anders in die huis praat terwyl hy haar op die bed vasgedruk het.
Van Rooyen, het gesê daar bestaan 'n baie groot moontlikheid dat Claassen weer by misdaad betrokke kan raak indien borgtog aan hom toegestaan word.
"Die staat het 'n prima facie-saak," het sy gesê en die hof versoek om borgtog te weier.
Hy het reeds ses relevante oneerlikheidsmisdade gepleeg.
Landdros Roelf Konstabel het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan Claassen toe te staan nie.
"Vorige veroordelings speel 'n groot rol met oorweging van borgtog en dit blyk dat u weer by misdaad betrokke kan raak," het die landdros aan Claassen gesê.
"Die hof het simpatie met u ma en dat u u kind wil versorg, maar daar is geen buitengewone omstandighede om borgtog toe te staan nie."
Die saak is vir verdere ondersoek tot 11 Desember uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: 62-Jarige in huis aangerand en gedreig
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'