OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan 'n oudsoldaat wat teregstaan op aanklagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging.
Hargeveas Olislager (44) word daarvan aangekla dat hy klippe na sy skoonma en niggie gegooi het en ook 'n traliehek van sy skoonma met klippe beskadig het.
Olislager het die hof versoek om borgtog aan hom toe te staan omdat sy huis deur boosdoeners gevandaliseer word en hy familiebande wil herstel.
Volgens hom woon sy vrou en kinders tans by sy skoonma.
“Ek wil haar terug wen want sy is nog baie lief vir my,” het Olislager getuig. Hy wil ook ‘n rolmodel vir sy seun wees en glo dit sal onregverdig wees indien die hof hom borgtog weier.
Die staatsaanklaer Elana Goosen, sowel as die ondersoekbeampte, konst. Monica Fouche, het borgtog teengestaan omdat Olislager ‘n geneigdheid toon om nie vir sy hofverskynings by die hof op te daag nie.
Volgens Goosen is drie lasbriewe al voorheen vir sy arrestasie uitgereik omdat hy nie hof bywoon nie.
“Hy het sy kanse gehad,” het sy gesê.
Olislager se regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir borgtog gevra omdat hy ‘n hand vol klein klippies na die klaers gegooi het en hulle nie beseer is nie.
Hy het sy les geleer en daar is geen bewyse voor die hof dat hy by die ondersoek sal inmeng of wegbly van die hof nie.
Landdros Vaughn Shone het bevind dat die aanklagte teen Olislager nie van die ernstigste is wat daagliks op die hofrol is nie en ook geen bewyse dat hy by verdere misdaad betrokke sal wees nie. Hy was egter by drie geleenthede nie by die hof nie en het self getuig dat hy deur mense geterroriseer en seergemaak word in die vervalle huis waarin hy alleen woon.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 24 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'