OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Beaufort-Wes, wat aan verkragting skuldig bevind is en teen sy vonnis en skuldigbevinding wil appelleer is verlede week borgtog in die Oudtshoorn-streekhof geweier.
Die Kaapse hooggeregshof het die aansoek toegestaan om te mag appelleer.
Darryll Oerson (23) is op 21 Oktober 2019 deur streeklanddros Daniël Boks gevonnis nadat hy op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind is. Die aanklagte is vir vonnisdoeleindes saamgeneem.
Nadat die landdros in 2019 verlof om te appelleer geweier het, het Oerson hom tot die Kaapse hooggeregshof gewend waar twee regters verlof toegestaan het.
Oerson se regsverteenwoordiger, adv. Steven Lourens, het Maandag die hof om borgtog gevra omdat dit tot nege maande kan neem vir die aanhoor en beslissing ten opsigte van die appèl.
Volgens Lourens het Oerson nog altyd sy hofverskynings bygewoon en glo hy dat daar ‘n redelike kans om sukses is.
Hy voer verder aan dat die applikant nie ‘n vlugrisiko is nie, gesien in die lig dat hy gereeld hof toe gekom het, ten spyte daarvan dat hy ‘n lang gevangenisstraf in die gesig gestaar het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter borgtog teengestaan omdat Oerson aan ernstige misdrywe skuldig bevind is waarvoor hy lewenslange tronkstraf opgelê kon word.
"Al is verlof toegestaan is die misdrywe net te ernstig," het Plaatjies betoog.
Die landdros het beklemtoon dat die hof reeds aan Oerson genade betoon het deur die aanklagte vir vonnis saam te neem en af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis vir verkragting.
"Die hof sien geen rede waarom ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sal kom nie en daarom word borgtog geweier," het die landdros gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'