Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn het hierdie week 99 koorsbome ryker geword. Dié bome wat deel is van Ek is Oudtshoorn se Trees of Hope-projek is Woensdag en Donderdag op verskeie plekke in Oudtshoorn geplant.
Sakeondernemings, organisasies, leerders, vrywilligers, raadslede en munisipale amptenare het gewoel om die bome op vier plekke te plant. Die eerste 14 is Woensdagoggend om 11:00 langs die museum geplant.
Later die dag en gister is bome ook by die ingang van die dorp aan Calitzdorp se kant, by Oewersig en in Dassieweg geplant.
Volgens Jaco Vorster, inisieerder van Ek is Oudtshoorn, is hulle vasbeslote om vanjaar nog 'n groot aantal bome te plant en duisende oor die volgende aantal jare. "Dit is nie net 'n bydrae om die dorp groen te maak nie, dit is ook ons klein deeltjie om suurstof te vervaardig," het hy Woensdag tydens die plantery langs die museum gesê.
Die bome is aangekoop met geld wat deur die munisipaliteit bewillig is sowel as geld wat deur lede van die Oudtshoorn-besigheidskamer geskenk is.
"Om hierdie dorp vol bome te kry gaan baie geld kos, maar ek is seker dat mense sal aanhou om die projek te steun," het Vorster gesê.
Mense wat geld vir bome wil skenk kan Helen Butler van die besigheidskamer tydens kantoorure by 044 272 6637 skakel vir die bankbesonderhede waar geld inbetaal kan word.
Lees 'n vorige artikel: Dosyne bome geplant
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'