Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die SAPD op Oudtshoorn, het ‘n onbekende persoon die polisie om 13:35 op Donderdag 27 Oktober geskakel en gesê dat ‘n bom in die CP Nel Museum geplaas is.
Polisielede, nooddienste en verkeersbeamptes was binne enkele minute op die toneel en het ‘n gedeelte van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg vir verkeer sowel as voetgangers gesluit. Besighede en die munisipale kantore is ontruim terwyl polisielede met honde wat opgelei is om springstof op te spoor, die gebou gefynkam het.
Na ‘n deeglike soektog is die gebou veilig verklaar en kon personeel en besoekers weer terugkeer. Volgens Kapt. Visser is die rede vir die dreigement onseker en ondersoek die polisie ‘n klag van ‘n vals bomdreigement.
Terwyl die soektog aan die gang was het omstanders bespiegel oor die rede waarom iemand juis die museum sou kies vir ‘n bomaanval.
Opmerkings het gewissel van die teenwoordigheid van ‘n sinagoge in die museum tot menings dat iemand moontlik nie van geskiedenis hou nie.
Werknemers en ‘n besoeker moes die museum ontruim terwyl die gebou deursoek word vir plofstof. Van links is: Veronica Baninz, Cornelius Lucas, Zoliswa Hanse, Florence Kock, Jethro Grootboom (Besoekende amptenaar) en Hilda Boshoff.
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS