OUDTSHOORN NUUS - Liefhebbers van boeremusiek sal verheug wees om te hoor dat die Grootvoël Boeremusiekfees weer vanjaar aangebied gaan word. Die vorige feeste is deur die sakeman Willem Marais aangebied, maar hy het verlede jaar verhuis, en daar was nie sekerheid of die fees weer aangebied sou word nie.
'n Groep musiekliefhebbers het egter saamgespan en is tans volstoom aan die werk om die fees met ten minste vyf orkeste aan te bied.
Die voorlopige datum vir die fees is 21 tot 24 September.
Tot dusver het die volgende orkeste aangedui dat hulle op die verhoog sal wees: Kaapland-boereorkes, Die Korrelkoppe, Donkiekar-boereorkes, Henning de Lange se Voorloper-boereorkes en Theo Slabbert se orkes.
Volgens die organiseerders is die fees 'n geleentheid sonder winsbejag en beloop die aanvanklike koste bykans R50 000.
Vir meer inligting of om bystand te lewer kan Sarie of John Emmerich by emmerichjohn73@gmail.com gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'