Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Boer van die Kammanassie-distrik, wat daarvan aangekla word dat hy die nasionale waterwet oortree het, het verlede Donderdag weer vlugtig in die Oudtshoorn-streekhof verskyn.
Die staat beweer dat Ebon le Roux (44) tussen 2016 en 2017 wederregtelik en opsetlik water uit die Kammanassierivier gebruik het op 'n wyse anders as toegelaat.
Die alternatiewe klagtes is dat hy water gebruik het teenstrydig met die voorwaardes deur dit uit die rivier te pomp vir besproeiingsdoeleindes asook nadelige beïnvloeding van die waterbron deur wederregtelik en opsetlik water uit die rivier te pomp.
Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het die hof vir uitstel gevra omdat hy nog nie alle getuieverklarings ontvang het nie. Streeklanddros Retha Pretorius het haar misnoeë hieroor uitgespreek.
"Dit is onverstaanbaar dat die staat so lank neem met die ondersoek" het sy gesê en die saak finaal tot 11 Desember uitgestel.
Volgens die bestuurder van die Stompdrift-Kammanassie-waterverbruikersvereniging het die staat reeds op 17 Augustus dagvaardings aan hulle drie getuies in die saak uitgereik om op 8 November in die hof te getuig en was daar dus volgens hom genoeg tyd vir die staat vir alle voorbereidings.
Die beskuldigde is op waarskuwing vrygelaat.
Lees 'n vorige artikel: Boer vlugtig in hof oor water
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'