Update
KAROO-NUUS - ‘n Boer van Aberdeen, wat aan menseroof en seksuele aanranding van ‘n vrou van De Rust skuldig bevind is, en ‘n opgeskorte vonnis van ses jaar opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas is, het vlugtig in die streekhof in Oudtshoorn verskyn nadat hy glo van die voorwaardes wat hom opgelê is, verbreek het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof meegedeel dat die staat ‘n aansoek wil bring om die opgeskorte vonnis van Louis Lategan (39) in direkte gevangenisstraf te omskep.
Lategan het op 15 Oktober 2021 ’n 39-jarige vrou van De Rust, net buite De Rust opgelaai nadat hy haar gevra het om hom te gaan wys waar die mense met die van, Delport, woon.
Volgens die vrou het hy haar terwyl hulle gery het, in die motor betas. Sy het later aan verbygaande vragmotorbestuurders gewys om stil te hou, maar sonder sukses.
Lategan se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof vir ‘n opgeskorte vonnis gevra omdat die beskuldigde ‘n eerste oortreder is en die klaer nie gesleep, geblinddoek of vasgebind is nie, en gevolglik nie enige beserings opgedoen het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het gesê Lategan het ‘n vrou van haar vryheid ontneem en saamgestem dat dit ’n eiesoortige geval is, maar steeds ‘n ernstige misdryf waarvoor die beskuldigde gestraf moet word.
Die klaer het in haar slagoffer impakverslag gesê die beskuldigde het inbreuk gemaak op haar privaatheid en haar slaappatroon nie meer dieselfde is nie. Sy is alewig bang en voel nie meer veilig op straat nie, en eis finansiële vergoeding vir die trauma waardeur sy gegaan het.
Volgens Arnolds hoef menseroof nie altyd met geweld te geskied nie en toegegee dat die ontneming van die klaer se vryheid slegs ‘n kort tydjie geduur het.
Die beskuldigde het onskuldig gepleit wat ‘n teken is dat hy geen berou toon nie.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat die klaer sowel as haar suster betroubare getuies was terwyl die weergawe van die beskuldigde nie sin maak nie.
Die hof het vir vonnis in ag geneem dat die beskuldigde ‘n eerste oortreder is en as versagting die twee aanklagte vir vonnis saamgeneem.
Lategan is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Verder is hy tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels 24 uur per dag in huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy is ook gelas om ‘n vergoedingsbedrag van R6 000 aan die klaer te betaal.
Arnolds het nie Vrydag gesê watter van sy voorwaardes Lategan verbreek het nie.
Die hof het die saak tot 6 Desember uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger nie Vrydag by die hof kon wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’