OUDTSHOORN NUUS - Depressie is 'n siekte en iets waaroor mense moet praat. Dit was die boodskap van Xavier du Plessis met die bekendstelling van sy inspirerende boek, Rado, son van 'n vreemde hemel, Vrydagaand by die VGK Bridgton.
Xavier en Ashleen se seun, Axel, het in 2016 op 21 jarige ouderdom sy eie lewe geneem.
"Ek moes die pyn op 'n manier uit my uit kry en die boek se skryf was 'n manier om dit te doen," het Du Plessis Vrydagaand gesê.
Die boek se titel, Rado, son van 'n vreemde hemel, is tweeledig. "Ek het vir die boek die naam Rado vir ons seun gekies, want Rado is 'n Switserse horlosie wat bekend is vir presisie, net soos wat God se tyd presies is. Axel was 'n presiese mens, uiters begaafd en sy tyd is deur God bepaal."
Die tweede deel van die titel, Son van 'n vreemde hemel, verwys na depressie.
Alhoewel hy en sy vrou tans in Vishoek woon, wou hy sy eerste bekendstelling op Oudtshoorn hou omdat dit sy grootworddorp is. "Ek het hier gematrikuleer en my eerste onderwyspos beklee en talle van my medestudente van UWK van destyds is steeds hier."
Volgens hom het hy direk na sy seun se dood aan die boek begin skryf, maar 'n besoek van sy seun se elf boesemvriende, die "Caffinoes", by die gesin se strandhuis op Jeffreysbaai het die manuskrip eers in 'n laai laat beland waar dit vir bykans vier jaar gebly het.
"Axel se dood was heeltemal onverwags. Hy het sy depressie weggesteek en ons het eers later besef hy was op 17 nog nie emosioneel volwasse genoeg om by die universiteitslewe aan te pas nie." Met sy selfdood was Axel besig met studies om hom as aktuaris te bekwaam. Die egpaar se dogter, Zoë, was 'n mediese student tydens Axel se dood, maar sy kon nie aangaan nie.
"Ek het vir my dogter gesê: 'We don't want a doctor, we want a daughter' en sy het toe haar studies gestaak."
Hy sê Zoë was 'n groot deel van sy besluit om die boek hierdie jaar te voltooi. "Ek wou vir haar wys dat mens klaarmaak waarmee jy begin het, en nou is sy ook weer op koers." Hy het aan die begin van die grendeltyd gaan sit en die boek van meer as 200 bladsye binne drie weke voltooi.
Met sy taalvaardigheid as Afrikaans- en Duits-onderwyser was die skryf vir hom 'n natuurlike proses.
Tydens Vrydagaand se bekendstelling het een van die gaste gevra of daar 'n wyer doel vir die boek is, as bloot 'n poging om die gesin te heel. "Ek sou graag aan hierdie boek wil dink as 'n handleiding vir ouers wie se kinders met depressie worstel. Ek glo dat die boek 'n riglyn en inspirasie vir talle mense kan wees."
Hy is ook gevra of dit nie emosioneel baie moeilik was om 'n boek te skryf waarin persoonlike ervarings gedeel word nie, waarop hy geantwoord het dat sy vrou aanvanklik huiwerig was om hulle privaat lewe aan die buitewêreld bloot te stel, maar dat dit tog 'n groot mate van berusting en heling gebring het.
Alhoewel die boek die gesin se persoonlike stryd, en talle grepe uit die gesinslewe toe Axel nog gelewe het, bevat, word fiktiewe name gebruik. Die laaste hoofstuk is die enigste deel van die boek wat heeltemal fiktief is.
Dit is 'n toekomsblik op waar die verskillende mense wat deel van Axel se lewe was, hulle moontlik kan bevind.
Ds. André Boesak, leraar van die VGK Bridgton, het gesê die boek dien as inspirasie vir ander om hulle verhale op papier te sit. "Ons het so baie stories, ons moet hulle self skryf en nie wag dat ander dit vir ons skryf nie."
Vir meer inligting oor Rado, son van 'n vreemde hemel, kontak Xavier du Plessis by xavierdup@gmail.com of telefonies by 076 281 9611.
Die musikant, Paul Amas, dra 'n leidjie op aan die Du Plessis-gesin.
Ds André Boesak het tydens die verwelkoming gesê hy sou graag wou sien dat die kerkgebou deur meer skrywers gebruik sal word om die kunste in Oudtshoorn te vevorder.
Poem Mooney en Xavier du Plessis tydens die bekendstelling van Rado, son van 'n vreemde hemel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'