OUDTSHOORN NUUS - Die Blossoms-boorgat waterprojek is weer op die tafel.
Dit meer as 20 jaar na kontrakteurs begin boor het om ongeveer een kilometer ondergrondse water in grootmaat aan Oudtshoorn te verskaf.
R46 miljoen is tot twee jaar gelede aan die projek spandeer, waarvan R17,6 miljoen uit Oudtshoorn-belastingbetalers se sak gekom het.
Tydens Vrydag 9 Maart se spesiale raadsvergadering is 'n verslag van die direkteur tegniese dienste, Chris Koch, aan die raad voorgelê waar gesê word, "die projek het twee jaar gelede tot stilstand gekom toe die departement water en sanitasie hul finansiering aan die projek gestaak het."
Dié departement het tot-en-met die staking van die projek meer as R28 miljoen in die projek geïnvesteer.
Die raad het Vrydag besluit om 'n proses van stapel te stuur om met die projek voort te gaan.
Dit volg na grootmaat infrastruktuur finansiering van R20 miljoen vir die 2018/19-boekjaar en R40 miljoen vir die 2019/20-boekjaar deur die nasionale regering bewillig is om met die projek voort te gaan.
Johan Fourie, raadslid verantwoordelik vir tegniese dienste, het die versekering gegee dat die hervatting van die projek, Oudtshoorn se belastingbetalers, "nie 'n sent uit die sak sal jaag nie".
"Inteendeel. Daar sal nog ongeveer R6 miljoen se rente uit die finansiering gemaak word, wat dan aangewend kan word om nóg projekte aan te pak."
Fourie het verder verduidelik dat indien die waterdruk sterk genoeg is, daar dan begin moet word om 'n 23 km pyplyn na Oudtshoorn aan te lê om die water in opgaardamme te stoor.
'n Vergadering tussen die munisipaliteit, die minister van die Wes-Kaapse departement plaaslike regering, Anton Bredell, en die nasionale departement water en sanitasie belê word om die pad vorentoe te bepaal.
Die betaling van uitstaande huurgeld van R91 380 aan boere in die Blossoms-omgewing, is ook deur die raad goedgekeur.
Rehabilitasiewerk aan die bestaande projek sal ongeveer R100 000 beloop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'