OUDTSHOORN NUUS - Die Blossoms-noodwaterskema vorder fluks. "Die aanjaagpompstasie-gebou is op dakvlak en albei die balanseringsreservoirs is al gebou, sê Chris Swart, senior bestuurder van riool- en waterwerke by Oudtshoorn-munisipaliteit.
Volgens Swart het De Jager Loodgieters in Maart 2022 met die bou van die res van die Blossoms-noodwaterskemaprojek begin.
"Tot op hede is 18 km van die totale sowat 22 km pypleiding geïnstalleer. Die verwagte voltooiingsdatum vir die projek is April 2023 vanwaar die watertoevoer na Oudtshoorn vanaf Blossoms aangevul sal word.
'n 23 km-pypleiding word vanaf Blossoms, buite Oudtshoorn, gelê om uiteindelik met die waternetwerk van die dorp verbind te word.
Dié projek is in 2001 begin om alternatiewe watervoorrade vir die Oudtshoorn-omgewing te ondersoek en te ontwikkel.
Nege diep boorgate en drie moniteringsboorgate is destyds geboor en vir 13 jaar gemonitor en getoets. Die toets is in 2014 voltooi en daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die boorgate genoeg grondwater lewer om die watertoevoer vanaf die Raubenheimerdam aan te vul.
Na voltooiing van die eerste fase van die boorgat sal water teen 40 liter per sekonde vrygelaat word. Alhoewel die druk by die boorgat hoog genoeg is om water vrylik te laat uitvloei, sal 'n pomp by die gat opgestel word om water na 'n aanjaagpompstasie 1,5 km verder te laat vloei. Vanaf die aanjaagpompstasie word water oor 2,36 km na 'n reservoir op 'n heuwel gevoer. Vanaf die reservoir sal water deur middel van swaartekrag na net buite Oudtshoorn vloei waar 'n gedeelte vir die landelike waterskema herlei sal word.
Balanseringsreservoir nommer twee. Foto: Hannes Visser
Boorgatkontrolekamer is reeds dakhoogte. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'