OUDTSHOORN NUUS - Met die oog op die bewusmaking van hoe gevaarlik, maar tog hoe voorkombaar hondsdolheid kan wees, het Animal Care Team (ACT) tesame met die Wes-Kaapse staatsveearts in Oudtshoorn onlangs 'n bewusmakingsessie by Laerskool Van Reede gehou.
Hulle het onder meer vir die kinders die tekens van hondsdolheid geleer, hoe om te reageer indien 'n dier met hondsdolheid op jou afkom, en ook hoe om na troeteldiere oor die algemeen om te sien.
Hondsdolheid is volgens Vanessa Engelbrecht van ACT 100% dodelik maar ook 100% voorkombaar.
"Hondsdolheid maak byna 100% van elke mens en dier dood wat in kontak kom met hierdie virale siekte, wat deur wilde diere soos vlermuise, vlermuisoorjakkalse, muishonde en wilde soogdiere na ons troeteldiere versprei kan word. In tot en met 99% van gevallestudies word bevind dat honde die oorsaak vir die verspreiding van die virus na mense is," het sy gesê.
Wat nog meer kommerwekkend is, volgens Engelbrecht, is dat sodra kliniese tekens van die virus verskyn, hondsdolheid basies 100% dodelik is in veral kinders onder die ouderdom van 15.
"Hondsdolheid is 'n akute en progressiewe virussiekte wat die sentrale senuweestelsel aanval. Tekens van hondsdolheid by troeteldiere is skielike, groot gedrags-veranderinge en onverklaarbare progressiewe verlamming. Ander tekens kan skielike anoreksie, tekens van erge senuweeagtigheid of skaamheid, prikkelbaarheid en erge aggressie insluit – ook na verwys as 'Mad Dog'-sindroom," het Engelbrecht vertel.
Volgens Engelbrecht is voorkoming baie maklik; 'n jaarlikse inenting kan daarmee help. "Om jou katte en honde in te ent kan oordrag van die virus voorkom," voeg sy by.
Dit is hier waar Oudtshoorniete kan baat. Vir die vyfde agtereenvolgende jaar hou die plaaslike staatsveearts in samewerking met ACT die Oudtshoorn Dieredag op 16 September, tussen 09:00 en 15:00.
Dit beteken dat daar op hierdie dag, gratis inentings teen hondsdolheid aangebied sal word.
"Bring jou honde en katte om ingeënt te word, maar maak seker hulle is op 'n leiband of in 'n hokkie indien nodig. Indien jy dalk 'n moeilike troeteldier het kan jy jou dier in die kar hou en ons personeel sal help deur middel van 'n 'drive-through'," het Engelbrecht bygevoeg.
Die Dieredag sal by die staatsveearts in Van der Rietstraat plaasvind. Daar sal baie aktiwiteite aangebied word vir kinders en diere, met kosstalletjies en meer beskikbaar. Moet dit nie misloop nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’