OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Norman Avontuur (36) van Nelsrivier, De Rust, wat van moord op sy saamleefmaat aangekla word, is vir verdere getuienis in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel nadat die beskuldigde besluit het om nie meer skuldig te pleit soos in sy pleitverduideliking nie.
Avontuur, aan wie borgtog geweier is, het in sy pleitverduideliking erken dat hy sy 32-jarige lewensmaat, René Swartbooi, op 13 Maart 2019 met 'n stuk hout geslaan het en dat dit tot haar dood gelei het.
Hy het erken dat hulle die betrokke dag saam met vriende gekuier het en Swartbooi later huis toe wou gaan. Hy is agterna en hulle was in 'n woordewisseling waarna hy haar, volgens sy verklaring, met die stuk hout begin slaan het.
Hy het ook erken dat hy baie kwaad geword en sy humeur verloor het. Hy het haar daarna huis toe gedra en hulle het gaan slaap. Die volgende oggend het hy sy werkgewer gebel en hom meegedeel dat hy nie die oorledene kan wakker kry nie.
Avontuur het na die lees van sy pleitverduideliking die hof meegedeel dat hy 'n fout begaan het om skuldig te pleit waarna landdros Ntsoki Moni, 'n pleit van onskuldig aangeteken. Die saak is vir verdere verhoor tot 6 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'