LADISMITH NUUS - Ten minste twee inwoners van Ladismith is geld kwyt nadat beloofde Wendyhuise nooit opgerig is nie.
Die eerste persoon het die Oudtshoorn Courant twee weke gelede genader nadat sy 'n paar weke gelede R3 000 deposito aan 'n persoon wat glo in Oudtshoorn sake doen, betaal het.
Sy het reageer op 'n pamflet wat in Ladismith versprei is waarop "Freddy" 'n verskeidenheid groottes Wendyhuise adverteer. Volgens die vrou moes sy R3 000 by U Save in Ladismith inbetaal.
"Freddy het egter 'n klomp verskonings gehad en tot vandag is die Wendyhuis nie opgerig nie. Hy wou hê dat ek nog geld inbetaal, maar ek het geweier." Volgens haar het Freddy gesê die Wendyhuise word in Oudtshoorn vervaardig en hy wag vir voorraad.
Sy het by U Save navraag gedoen oor haar inbetaling en uitgevind dat die R3 000 in Belville deur 'n vrou ontvang is. Die Oudtshoorn Courant het die nommers op die pamflet geskakel en na verskeie probeerslae verlede week met Freddy gepraat.
Volgens hom woon hy in Volmoed buite Oudtshoorn en hy het onderneem om die vrou se geld terug te betaal. Toe sy hom bel het hy egter daarop aangedring om haar bankbesonderhede en pinnommer te kry voordat hy die geld terugbetaal.
Sy het geweier en gesê hy moet die geld deur U Save oorbetaal soos wat sy gedoen het. Hy het egter geweier en nie verdere oproepe beantwoord nie. Hy het nog een oproep van die Oudtshoorn Courant beantwoord waartydens hy gesê het "Jy moet maar doen wat jy wil doen".
Die pamflet waarop inwoners van Ladismith reageer het en depositos vir Wendyhuise betaal het.
Nog 'n dame van Ladismith het die koerant Dinsdag gekontak. Volgens haar het sy ook op die pamflet reageer en 'n Wendyhuis by 'n man wat homself Freddy Arendse noem, bestel. Sy het op 26 Maart R1 500 by U Save inbetaal en die struktuur sou die volgende dag afgelewer word.
Sy sê Freddy het een verskoning op 'n ander gehad en haar gevra om 'n verdere R500 vir vervoerkoste in te betaal. Sy het geweier en op 'n adres van Arendse se besigheid aangedring.
"Hy het vir my 'n adres in Robertson gegee en ek het op my eie koste al die pad van Ladismith af soontoe gegaan. Daar was wel 'n besigheid wat Wendyhuise verkoop, maar die arme vrou het van geen Freddy Arendse of enige bestellings uit Ladismith geweet nie. Dit was duidelik dat hy my om die bos gelei het en ek is steeds sonder my geld."
Volgens haar het U Save bevestig dat haar deposito van R1 500 in Belville deur 'n Vivian Smith ontvang is.
Freddy het hierdie week nie oproepe van die Oudtshoorn Courant beantwoord nie en ook nie op teksboodskappe reageer nie.
Volgens die polisie moet mense onder geen omstandighede in goedertrou depositos betaal as hulle nie weet presies waar die onderneming is, waar die persoon bly en wat die besigheid se bankbesonderhede is nie.
Dit blyk dat toonbank-tot-toonbank geldoorplasings gereeld deur swendelaars gebruik word om geld te ontvang en dat die betaler nooit weet in watter dorp die swendelaar werklik is nie.
Lees 'n vorige artikel: Wendyhuisbouer "bedrieg" mense
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'