OUDTSHOORN NUUS - Twee persone, 'n ma en haar 16-jarige seun, is Dinsdagmiddag omstreeks 17:30 beseer in 'n botsing in Voortrekkerweg.
Die ma en seun se splinternuwe Hyundai is deur 'n Fiat van agter getref.
Volgens omstanders op die toneel het die Hyundai agter 'n ander voertuig by die rooi verkeerslig gestaan toe die bestuurder van die Fiat agter in die Hyundai vasgery het. Dit is onseker of die voertuig voor die Hyundai ook skade opgedoen het, aangesien die motor die toneel verlaat het.
Die vrou en seun wat in die Hyundai was is vir hul beserings op die toneel behandel en na 'n hospitaal geneem. 'n Familielid het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die seun nekbeserings opgedoen het en die ma het haar been in die ongeluk beseer. Volgens sers. Gretchen Micheals word geen klag ondersoek nie.
Oudtshoorn Courant is bewus daarvan dat die bestuurder van die Fiat reeds in vorige botsings ook betrokke was en by ten minste een van hulle op 'n klag van dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Daar is op 10 Augustus 2018 in die koerant berig dat die vrou met haar Nissan van agter teen 'n stilstaande bakkie by die kruising van Voortrekkerweg en Buitekantstraat vasgery het. Nadat paramedici die bestuurder van die Nissan ondersoek het en bevestig het dat daar geen besering of mediese toestand is nie, is die provinsiale verkeersdepartement ontbied om 'n alkoholtoets te doen. Sy kon nie daarin slaag om voldoende te blaas vir die instrument om te registreer nie en sy is in hegtenis geneem en hospitaal toe geneem om bloed te laat trek.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het met daardie berig bevestig dat 'n klag van dronkbestuur ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'