Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat drie insittendes van 'n motor wat in 'n botsing met 'n motorfiets betrokke was, almal ontken dat hulle die motor bestuur het.
Die botsing het Saterdagoggend by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat plaasgevind toe 'n silwer Mercedes vanuit Van der Rietstraat voor die motorfiets ingery het. Die Mercedes het na die botsing op die sypaadjie teen 'n gebou beland. Die motorfietsryer het van die motorfiets afgeval en etlike meter vêr op die padoppervlak gerol. Hy is per ambulans hospitaal toe geneem waar hy vir ligte beserings behandel is.
Die eienaar van die Mercedes het op die toneel gesê hy het nie die voertuig bestuur nie. Daar was 'n man en 'n vrou saam met hom in die motor en hy het beweer dat die man bestuur het. Hy het op die toneel aan die Oudtshoorn Courant gesê: "When I drink, I don't drive. I give my keys to anyone who shows me a license."
Die man wat saam met hom in die motor was, is in 'n polisievoertuig gelaai, maar later weer uitgelaai. Die Oudtshoorn Courant was in die verlede op drie tonele waar die spesifieke man by voorvalle met voertuie betrokke was.
Nadat hy uit die polisievoertuig geklim het, het hy agter die stuur van die Mercedes ingeklim en die motor van die sypaadjie afgery en dit op die oorkantste sypaadjie parkeer terwyl daar vir 'n insleepdiens gewag is.
Die eienaar van die Mercedes en helpers stoot die motor van die sypaadjie af na die botsing. Foto's: Hannes Visser
In antwoord op 'n navraag aan die Oudtshoorn-polisie oor die voorval het kapt. Louis Visser gesê dat daar aanvanklik aanduidings was dat 'n klag van dronkbestuur ondersoek word, dit is verander na 'n klag van roekelose of nalatige bestuur.
Volgens hom was daar drie insittendes in die Mercedes en kon daar nie op die toneel bepaal word wie die motor bestuur het nie. Visser het gesê 'n klag van dronkbestuur kan bygevoeg word indien "getuienis daarop dui dat die bestuurder onder die invloed vandrank was".
Hy het gevra dat enigiemand wat onmiddellik voor of -na die botsing gesien het wie agter die stuur van die Mercedes was, dringend met die polisie in verbinding moet tree.
Twee insitttendes van die Mercedes wat in 'n botsing betrokke was by 'n venster van die vangwa waarin 'n persoon wat glo bestuur het vir 'n rukkie aangehou is.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'