LADISMITH NUUS - Die insittende van 'n Opel Astra moes Sondagaand na 'n botsing met meganiese kake uit die motor bevry word.
Die botsing, tussen die Astra en 'n minibus taxi, het omstreeks 22:00 by die indraaipad na Nissenville buite Ladismith plaasgevind.
Volgens die bestuurder van die minibus, Gershwin Titus, was hy onderweg om werknemers van Ladismith Kaas se fabriek na Sakkiesbaai te vervoer nadat hulle skof geëindig het. Volgens hom het die aankomende Opel Astra by die ingang na Nissenville voor die minibus ingedraai en die twee voertuie het mekaar getref.
Die bussie is aan die bestuurderskant getref en die slag het die Astra omgeswaai in die rigting vanwaar dit gekom het.
Die polisie en ander nooddienste was binne minute op die toneel waarna verskeie beseerdes na die Alan Blyth hospitaal vervoer is.
Teen gister was almal, behalwe die bestuurder van die Astra, ontslaan.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'