OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurskajuit van 'n ligte vragmotor wat vermoedelik nie deeglik in plek gesluit was nie, het byna rampspoedige gevolge vir die bestuurder gehad.
Die bestuurder van 'n Tata-vragmotor het Donderdagmiddag omstreeks 17:45 by die kruising van Voortrekkerweg en Adderleystraat by die verkeerslig gerem toe die stuurkajuit van die trok skielik vooroor gekantel het. Die bestuurder kon nie die pad sien nie en kon ook nie die vragmotor betyds tot stilstand bring nie.
Die vragmotor het oor die sypaadjie gery, 'n palissadeheining uitgeruk en teen die muur van 'n gebou tot stilstand gekom. Die bestuurder het 'n hoofbesering opgedoen en is per ambulans hospitaal toe geneem.
Hy was alleen in die vragmotor nadat hy konstruksiewerkers by hul huise afgelaai het. Hy was onderweg na die SAPD Opleidingsakademie waar hulle besig is met aanbouings.
Volgens sers. Gretchen Michaels, kommunikasiebeampte van die SAPD, is die bestuurder se besering nie ernstig nie en geen saak word ondersoek nie.
Die stuurkajuit van die trok het vooroor gekantel voor die botsing. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'