OUDTSHOORN NUUS - Hy is baie trots daarop om vir sy hele onderwysloopbaan by een skool betrokke te kon wees.
So sê Simon Swigelaar, oudskoolhoof van die Bergsig Primêre Skool. Die skool het vanjaar sy 50ste bestaansjaar gevier.
Die skool het sy ontstaan gekry nadat die Onderwysdepartement in 1968 die Queenstraat Independente kerkskool oorgeneem het en dit die eerste staatskool op Oudtshoorn geword het met die naam Oudtshoorn Laerskool Nr 1.
Die kerk het toe ook al, as gevolg van die Groepsgebiedewet, klaskamers in Bridgton gebou, bekend as die Weyers Gedenkskool.
Die 50 jaar feesvieringe het volgens die huidige waarnemende skoolhoof, Brandon Griffin begin met ‘n kerkdiens en ook op Sondag 9 Desember met ‘n dankseggingsdiens in die Bridgton United Congregational Kerk afgesluit waartydens ‘n oudleerder, dr Esau Willemse, as prediker opgetree het.
Die feesvieringe het ingesluit ‘n gesinsdag, pretloop, ‘n sangaand en gala dinee in die BSS-skoolsaal.
Volgens Swigelaar, wat in 1952 sy onderwysloopbaan by sy Alma Mater begin. Hy is in 1968 as vise-hoof aangestel was vanaf 1983 tot sy uittrede in 1992 skoolhoof.
Die staat het in 1968 ‘n groot stuk grond van die Oudtshoorn munisipaliteit gekoop om die klaskamers in Queenstraat, Noord-Einde en Bridgton bymekaar te bring.
‘n Voormalige skoolinspekteur, mnr JF Rauch, het die naam Bergsig voorgestel wat deur die onderwysowerhede aanvaar is.
Die nuwe skool is in 1970 gebou en die volgende jaar in gebruik geneem. Die deure van die Queenstraatskool en Newton Hall is finaal einde 1970 gesluit.
Wyle me Francis Coerecius het vir die skool ‘n skoollied geskryf uit die woorde van die leuse van die skool “Nou leer ons, later dien ons”, geskep deur wyle mnr John F Muller wat van 1956 hoof was van die Queenstraatskool.
Prinsipale wat Bergsig oor die jare gedien het was wyle mnre JF Muller en AJ Coerecius asook SP Swigelaar, JC Coetzee en Willie Freeks.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'
Foto: