OUDTSHOORN NUUS - Die inwoners van ACVV Helen Bellinghanhof tehuis vir bejaardes het die jaar vroeg Kersfees gehou. Dié dag waarna so baie uitgesien het, het op 7 Desember plaasgevind.
Wenslysies vir geskenke is deur die inwoners ingevul en aan Lynette Joubert van Mosselbaai gestuur.
Sy het wyd en syd op sosiale media vir donasies gevra en seker gemaak dat elke inwoner ten minste twee geskenke op hul lysie ontvang.
Die Kersfees-tafels is deur die vriende van Bellinghanhof versier. Verskeie skenkings het ook gesorg dat die inwoners met 'n heerlike middagete bederf kon word.
Om die dag meer spesiaal te maak het Oudtshoorn Vryburgers bederfboksies met snoeperye, waaraan almal later kan smul, vir Kersfees afgelaai.
Steve Hofmeyr besoek Bellinghanhof
Sr. Colleen Fourie, bestuurder van Bellinghanhof, vertel dat sy gehoor het dat Steve Hofmeyr in Oudtshoorn gaan optree. Sy het die bal aan die rol gesit deur 'n versoek aan hom te stuur om die inwoners te besoek - hy het sonder om te skroom ingestem en op 9 Desember 'n draai gaan maak. Inwoners het na bekende liedjies soos Pampoen en Die Bloubul geluister. Hulle het soms lekker vir sy skerp sin vir humor gelag - alhoewel die besoek kort was, het almal dit baie geniet.
Steve Hofmeyr het tussen die tafels deur beweeg terwyl hy van sy liedjies gesing het.
Die Kersete was 'n heerlike bederf vir die inwoners van Bellinghanhof.
Steve Hofmeyr klink 'n glasie saam met Riki Botha, inwoner van Bellinghanhof. Foto: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'