OUDTSHOORN NUUS - ACVV Helen Bellinganhof het Woensdag 15 Desember twee eretoekennings aan twee vroue gegee wat onderskeidelik 60 en 40 jaar by die tehuis betrokke is.
Diane de Jager het meer as 60 jaar diens by Bellinganhof, waarvan sy 40 jaar as voorsitter gedien het. Die ander steunpilaar is Baby van Rooyen wat reeds 40 jaar by die tehuis betrokke is. Sy het 35 jaar lank op die beheerraad gedien en is nou self 'n inwoner by Bellinganhof.
Volgens suster Colleen Fourie, bestuurder, het Van Rooyen honderde ure by haar naaimasjien spandeer waar sy onder andere lakens, dekens, gordyne, treklakens en ander benodighede gemaak het. Sy het ook op die dag van die toekennings haar 88ste verjaarsdag gevier.
Die toekennings is tydens 'n Kersfunksie vir inwoners, oorhandig. Die funksie is moontlik gemaak deur skenkings en donasies van die Oudtshoorn-gemeenskap asook familielede.
"Ons het ook 250 geskenkpakkies van die gemeenskap ontvang, wat dit moontlik gemaak het om vir elke inwoner 'n geskenk te gee. Tot die vreugde van ons inwoners, het Kersvader hul besoek en die geskenke oorhandig," het Fourie gesê.
Inwoners wat nie die funksie in die eetkamer kon bywoon nie, is in hulle kamers deur Kersvader besoek om hulle geskenke te ontvang.
'n Stralende inwoner van Helen Bellinganhof tydens verlede week se Kersfunksie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'