OUDTSHOORN NEWS - Die bekroonde jong pianis, Qden Blaauw (18), wie se pa oorspronklik van Oudtshoorn is, tree op Donderdag 11 Mei in die Klein Karoo Emporium op.
Die opbrengs van die konsert sal aan Laerskool PJ Badenhorst in Dysselsdorp geskenk word.
Blaauw het oor die jare al in Pole, Frankryk, Duitsland en regoor Suid-Afrika opgetree.
Hy het ook al vele kere opgetree saam met van die top-filharmoniese orkeste in Suid-Afrika en is 'n gereelde gaskunstenaar by die Suidoosterfees in Kunstekaap.
Blaauw was in 2016 een van tien kinders wat wêreldwyd gekies is om 'n week lange meesterklas, aangebied deur die beroemde Chinese pianis, Lang Lang, by te woon.
Sy lang lys van toekennings sluit in eerste pryse in Yamaha Internasionale-beurskompetisie, Atterbury-klavierkompetisie, SAMRO nasionale musiekkompetisie en die Peter Kooi nasionale-klavierkompetisie.
Hy het ook onlangs 'n volle onderrigbeurs ontvang om in Londen aan die Royal Academy of Music te gaan studeer.
Die konsert in Oudtshoorn is dus een van die laastes wat hy sal aanbied voor sy vertrek na die buiteland in September.
Blaauw het ook al verskeie kere in die media verskyn, ondermeer tydens insette op Espresso, Kwêla, eNCA, SABC Nuus, Klop! en nog meer.
Die program sluit in werke deur Beethoven, Bach, Rachmaninoff, Ravel, Liszt en Kapustin.
Volgens sy pa, Denrick, is sy seun se doelwit om klassieke musiek weer cool te maak en wil hy veral jongmense daarvan bewus maak dat dié musiekvorm nie noodwendig boring behoort te wees nie.
Toegangsfooi vir die konsert is R80 per persoon en besprekings kan gedoen word deur Antoinette by 084 567 1030 of Annelise by 072 592 3928 te WhatsApp.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’