OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Afrikaanse skrywer, Marita van der Vyver, het vandeesweek hoërskole in Oudtshoorn besoek om 'n praatjie te lewer oor poësie en prosa. Van der Vyver, wat tans in Frankryk woon, het aanvanklik bekendheid verwerf vir haar boek, Griet skryf 'n Sprokie, wat in 1992 die ATKV, M-Net en Eugène Marais-prys gewen het.
Dié boek is deur verskeie ander treffers opgevolg.
Sy het tydens haar besoek 'n gr. 10 Afrikaans-klas by Bridgton Sekondêre skool toegespreek en gesê alhoewel sy begrip het dat baie tieners nie veel in lees geïnteresseerd is nie, dit baie pret kan wees as 'n mens die wye veld van taalvaardighede verken. Volgens haar is rymklets, wat in musiekterme deel vorm van die hip-hop-genre, 'n ideale voorbeeld van hoe daar met taal op 'n intelligente vlak geëksperimenteer kan word om die luisteraar op 'n genotvolle wyse te stimuleer.
Van der Vyver het ook verduidelik dat elke reël wat 'n persoon skryf, sy eie unieke vloei het, en dat die skryfproses opwindend raak sodra die skrywer dié vloei identifiseer en daarvolgens begin improviseer.
Wat gedigte betref het sy beklemtoon dat alle gedigte nie noodwendig moet rym nie, en dat die sleutel tot sukses in die skryf van gedigte in die egtheid daarvan lê. Sy het voorts die leerders aangemoedig om haar boek, Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, te lees wat volgens haar baie aanklank by die jeug sal vind . Dié boek is tans landwyd by biblioteke beskikbaar.
"Terwyl julle die biblioteek besoek, lees gerus ook enige ander boek omdat ek julle kan waarborg dat daar wel een boek sal wees wat julle uitkyk op die lewe vir ewig sal verander," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'