OUDTSHOORN NUUSFLITS - Die alombekende Oudtshoorniet en eienaar van die Greenside Restaurant, Rodney Gelant, is verlede Donderdagaand voor Absa-bank in Hoogstraat aangerand. Hy is van ongeveer R3 000 en sy selfoon beroof.
"Dit is nie 'n ervaring wat ek enigiemand toewens nie," het Gelant vertel.
Volgens hom het hy Donderdagaand geld by die bank gaan trek omdat hy die volgende dag met voorbereiding vir 'n funksie wou begin.
"Ek het by die OTM gestaan en opgemerk dat daar iemand agter my beweeg. Alhoewel die straatligte gebrand het, was dit nogal donker buite en daar was geen sekerheidswagte naby nie.
"Ek het so 'n snaakse gevoel gekry asof ek geweet het iets gaan gebeur. Ek het omgedraai om na my motor toe te loop, en gehoor iemand skree na my. Voor ek by die trappe kon kom het ek die geweldige harde hou oor my gesig gevoel."
Volgens hom het dit soos 'n plank wat met harde plastiek bedek was gelyk.
"Die bloed het oor my gesig gestroom. Ek het onmiddelik al my geld en my selfoon op die grond gegooi en so kalm moontlik gebly. Ek het nie geweet wat hy nog beplan nie. Skielik het 'n langer man van die middelmannetjie se kant af gekom en op die man wat my aangerand het geskree.
"Ek was nie seker of hy deel was van die plan om my te roof en of hy regtig wou help nie, maar die man wat my geslaan het, het die geld en selfoon gevat en laat spaander."
Volgens hom het hy dadelik pad gegee en tot by die naaste kuierplek geloop om ys te kry.
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'