Hazel Jonker, sy vrou en eienaar van die drie ster gastehuis Hazels Home Stay in Bridgton, was saam met hom en hul kleindogter Dolanthe (25) in die motor toe dit teen die voertuig van 'n toeris van San Francisco gebots het.
Dit is die tweede botsingsterfte in die familie nadat Dolanthe op driejarige ouderdom, haar ma Dolene ook in 'n motorongeluk verloor het. Hazel en Tommy het haar aangeneem na haar ma dood is en soos hul eie grootgemaak.
Volgens Jonker het die ongeluk net voor PetroSA gebeur. Voor die ongeluk was hulle vir byna 'n maand in Pretoria waar hulle by familie gekuier het en daarna in Middelburg.
"Ons was op pad terug van die Kaap se kant af en het deur Mosselbaai gery om Dolanthe weer in George af te laai waar sy werk. Ons het so lekker gesels en gekuier in die kar. Ons het die heeltyd grappies gemaak en gelag en mekaar geterg. Ek het net vir 'n oomblik weggekyk of moes aan die slaap geraak het, want ek het wakker geword van die slag. Ons is daarna met 'n heuwel af en die kar het vreeslik gestamp," vertel sy.
Jonker vertel verder dat die voertuig teen 'n boom gestop het.
"Ek het vir Tommy geskree om uit die kar te klim, want ek was bang die kar slaan aan die brand. Hy het na my gekyk en hy het probeer om uit te klim maar hy kon nie. Dolanthe het teen die heuwel uitgehardloop en mense probeer stop om ons te help en die polisie gebel. Ek het aan die kar se deur geruk, maar my been het seergekry en ek kon hom nie op my eie uit die kar kry nie."
Sy sê 'n man het haar later teen die heuwel uitgedra en die polisie en nooddienste het gekom om hulle te help. Tommy het in die voertuig vasgesit en die nooddienste het meganiese kake gebruik om hom uit die voertuig te sny.
Volgens Jonker is Tommy dood na die nood-dienspersoneel hom uit die voertuig gehaal het.
"Dolanthe het eerste gehoor hy is dood. Sy het aanhoudend op hom geskree. Ek wou ook met hom praat, maar niemand kon my vat nie en ek kon nie loop nie. Ek het gedink as hy my stem hoor sal hy wakker word. Sy ribbes het gebreek en daar was baie bloed en sy longe het ook seergekry," vertel sy.
Jonker sê Tommy moes vooraf van sy dood geweet het. Sy vertel hoe hy voor hulle vakansie sy testament en geldsake in orde gekry het.
"Hy wou nie ry voor sy goed nie afgehandel was nie. Hy wou eers vir my verduidelik hoe ons geldsake werk en waarvoor watter geld is."
'n Ooggetuie op die toneel, Toit Fourie, sê hulle was net agter die Jonkers toe die ongeluk gebeur het.
"Ek het gesien die rooi kar (die voertuig waarin die Jonkers was) het van die Kaap se kant af gekom en die Mercedes het na die Kaap se kant toe gery. Die rooi kar het na die verkeerde kant van die pad geswaai en die Mercedes wat van vooraf gekom het het probeer uitswaai. Hulle het mekaar teen kant van die voertuig geraak. Die rooi kar se voorwiel moes teen iets van die Mercedes gehaak het, want die wiel het heeltemal afgebreek. Ek en my vrou moes tussen die wiel en die voertuig verby ry om die ongeluk te verby. Daar was nêrens waar ons heen kon gaan nie, want daar het nog voertuie van voor af gekom," vertel hy.
Volgens hom was die Jonkers se voertuig nog 'n rukkie op die pad voor dit teen die wal af is en was dit hy wat Hazel teen die heuwel uitgedra het na die pad toe.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die ongeluk om 15:20 gebeur.
" Voorlopige inligting dui daarop dat die oorledene se voertuig 'n ander voertuig verbygesteek het en reg van voor met 'n aankomende voertuig gebots het. Met die impak van die ongeluk het hy gesterf. Tydens die botsing is 'n toeris van San Francisco, VSA, beseer wat in die ander voertuig gereis het. Hy sterk tans aan in die Life Bay View-hospitaal. 'n Strafbare manslag dossier is geopen vir verdere ondersoek," het hy in 'n verklaring gesê.
Tommy was 'n oudonderwyser by De Villiers Primêre Skool waar hy sedert 1969 tot 1996 gewerk het. Hy het na sy aftrede met fotografie begin en het ook 'n rukkie foto's vir die Oudtshoorn Courant geneem. Hy word oorleef deur sy vrou, sy seun Justin en sy twee dogters Inge en Dolanthe.
Sy begrafnis is more om 12:00 vanaf die huis in Coralweg 17, die diens by die Evangeliese Lutherse kerk in Springbokweg is 13:00 en die laaste diens is 14:00 by die VGK-kerk in De Villiersstraat.

Tommy Jonker, wat Maandag in 'n motorongeluk in Mosselbaai dood is, het in die voertuig vasgesit en is met meganiese kake uitgesny. Foto's: verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'