OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Tuishuis, tehuis vir bejaardes op Oudtshoorn, sê hulle sukkel al drie jaar om die straat wat langs die tehuis verbyloop te laat regmaak.
Volgens Nine Saayman, voorsitter van die huiskomitee van Tuishuis, is Ruddstraat, die straat langs die tehuis, in 'n haglike toestand en kan hulle skaars met hulle motors daar ry.
"Ons voertuie kry seer op daardie pad. Dit is egter nie ons enigste probleem nie. Oor naweke is dit ook die enigste pad wat ons en die gaste kan gebruik omdat hulle die voorkant vir veiligheidsdoeleindes toe hou.
"Die pad is so ongelyk dat ons omtrent nie daar kan loop nie. Die inwoners wat van rolstoele of looprame afhanklik is kan amper glad nie daar ry nie omdat dit 'n gevaarrisiko vir hulle inhou."
Saayman sê dit is ook die ingang na die siekeboeg en wanneer dit reën staan daar damme water oral in die straat.
"Ons is al drie jaar met die munisipaliteit in gesprek oor Ruddstraat. Hulle het aanvanklik ontken dat dit hulle pad is, maar daar is 'n gebou in Ruddstraat wat dienste van die munisipaliteit kry. Daar is ook straatnaamborde van die munisipaliteit op. Ons het onsself ook al na raadslede gewend, maar dit blyk dat ons pleidooie op dowe ore val."
'n Inwoner van Tuishuis op haar karretjie in Ruddstraat.
Foto's: Liezl van Niekerk
Marie Schmidt, 'n lid van die huiskomitee sê, al antwoorde wat hulle kry is dat dit op die begroting is."Ons vra net dat die straat reggemaak moet word," het sy gesê.
Woensdagmiddag laat het die Oudtshoorn Courant 'n oproep van Schmidt gekry waar sy aan die koerant gesê het dat die munisipaliteit die straat besoek het en onderneem het om dit die week te herstel.
Teen druktyd is geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'