OUDTSHOORN NUUS - "Ek het die oubaas in die gesig geslaan en getrap, Jacobus het die oubaas eenkeer geslaan en my neef, Martin, het buite waggehou om te kyk of iemand aankom."
So lui 'n bekentenis van Ronaldo Olkers, wat saam met sy broer, Jacobus van der Ross, daarvan aangekla word dat hulle Frans Tredoux (75) van Stolsvlakte op 29 Mei vanjaar in sy winkel met 'n knopkierie geslaan, met 'n mes gesteek en van R200 kontant beroof het.
Tredoux se vrou, Cornelia (70), het Maandag getuig dat hy té tans te siek is om in die saak te getuig.
"My man is baie siek en bedlêend en ek gaan hom nie die trauma laat beleef om te kom getuig nie," het sy gesê.
Olkers en Van der Ross staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hulle pleit onskuldig.
Die vrou het voorts getuig dat Olkers en Van der Ross twee broers is wat voor haar en haar man grootgeword het. "Ons ken hulle goed," het sy getuig.
Volgens haar was sy en haar man die betrokke oggend in die huis besig toe hulle iemand vanaf die winkel hoor roep.
"Ek het die twee by die winkel sien sit waarna my man gesê het dat hy hulle sal gaan help. 'n Rukkie later het hy bebloed by die huis aangekom en my meegedeel dat hy deur Olkers en Van der Ross aangeval en dat hulle die geldlaai met net meer as R200 daarin gevat het."
Volgens haar is die geldlaai teruggevind, maar nie die geld nie.
Kapt. Johannes Nel, van die Oudtshoorn-Polisie, het getuig dat hy op versoek van die ondersoekbeampte, ao. Wessels Bower, 'n dag nadat Olkers in hegtenis geneem is 'n bekentenis van hom afgeneem het.
'n Staatsgetuie, Joseph Jansen (60), het gister getuig dat hy en sy vrou buite hul huis gestaan het en dat hy gesien het die twee beskuldigdes kom uit die winkel.
Hy kon nie sien of hulle enigiets by hulle gehad het nie en volgens hom was daar nie iemand wat wag gehou het nie.
Hy het vertel dat Olkers en Van der Ross van die winkel se kant af by hulle verbygestap het.
Jansen het getuig dat nog mense na die winkel gegaan het maar kon onder kruisverhoor nie presies sê watter tyd van die dag dit was nie.
Die saak dien voor streeklanddros Mark van Wyngaardt.
Hyron Goulding is die aanklaer terwyl Eugene Roos en adv. Stoffel Prinsloo in opdrag van die Regshulpraad onderskeidelik namens Olkers en Van der Ross verskyn.
Die saak duur voort.
Klik hier vir vorige artikels:
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'