OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende inwoner van Oudtshoorn (81) is Sondag by die begraafplaas deur 'n man van haar voertuig beroof toe sy haar man se graf gaan besoek het.
Die bejaarde vrou se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar sy wou nie met die media praat nie.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê die vrou het Sondag haar man se graf gaan skoonmaak toe die voorval gebeur het.
"Die man het aangedring op haar voertuig, 'n Toyota Tazz, se sleutel en het toe weggery met die kar. Die klaagster het huis toe geloop en die polisie gaan skakel."
Visser sê lede van die voertuigdiefstaleenheid en nog speurders het onmiddellik met hulle ondersoek begin en hulle het die voertuig ongeveer 14:00 by 'n 28-jarige verdagte gevind.
"Hy is van Oudtshoorn. Die voertuig is by die ingang van die skouterrein gevind."
Die ondersoekbeampte van die voertuigdieftaleenheid, ao. Berie Botha, het die publiek bedank vir hulle inligting wat gelei het tot die opsporing van die verdagte.
Botha is deur kapt. Deon Bouwer en ao. Martin le Roux, twee speurders, bygestaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'