OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede Donderdag 329 huise in Rose Valley aan nuwe eienaars oorhandig.
Jerome Lambaatjeen, raadslid, het die begunstigdes van Wyk 6 in Rose Valley toegespreek en gesê dat die verkryging van 'n titelakte menswaardigheid weer terugbring.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die huise wat oorhandig is 'n vyf jaar waarborg op die strukture en twee jaar waarborg op die dak. Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester, het aan die nuwe huiseienaars gesê indien daar enige waterlekkasies is, moet hulle dit onmiddelik by die munisipaliteit aanmeld.
"In dié tydperk waar ons 'n tekort aan water het, moet ons verantwoordelikheid neem om toe te sien dat daar nie water gemors word nie deur ook op daardie manier water te bespaar."
Bonginkosi Madikizela, minister van menslike nedersettings, was 'n gasspreker by die geleentheid en het gesê: "Hierdie gebeurtenis is nie net die oorhandiging van titelaktes nie, dit gaan ook oor die grondhervorming."
Hy sê die oorhandiging van hierdie titelaktes gebeur op 'n tyd waar die land in debat oor grond is. Volgens hom wil die provinsiale regering die waardigheid van die mense wat in die verlede gemarginaliseer was, herstel deur seker te maak dat mense die reg op eie eiendom het.
"Die titelaktes wat u ontvang is 'n bevestiging dat u nou eiendomseienaars is. U besit die huis, die eiendom, waarin u nou woonagtig is."
Een van die begunstigdes, Ragel Esau (63) sê sy is baie dankbaar dat die Here haar deurgedra het dat sy uiteindelik 'n huis kan hê wat sy haar eie kan noem.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het op 31 Augustus die eerste plek behaal vir die Govan Mbeki-toekenning vir die Rose Valley-projek in Kaapstad.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'