OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n egpaar van Oudtshoorn wat van versekeringsbedrog aangekla word, is verlede week in die streekhof vir verdere kruisondervraging van die vrou, tot 17 Februarie uitgestel.
Die 39-jarige Desiree Bowkers staan saam met haar man Ricardo (42), wat tans ‘n vonnis van 12 jaar uitdien vir bedrog en geldwassery, tereg op 22 soortgelyke klagtes.
Hulle het na bewering vals eise by Santam ingedien en van die oortredings is volgens die staat glo gepleeg terwyl Ricardo in die tronk was.
Volgens Desiree Bowkers het sy nie geweet waarmee haar man besig was nie omdat hy nie eerlik met haar was nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit egter aan haar gestel dat sy beslis betrokke was omdat geld vir vals eise in bankrekenings wat sy op die name van hul twee minderjarige seuns ge-open het, inbetaal is.
Bowkers het getuig dat haar skoonma die bankkaarte opgesny het en sy nie bewus was van die inbetalings in 2014 nie.
Goulding het Bowkers onder kruisverhoor geneem ten opsigte van klagtes 11 tot 14.
Hiervolgens is eise namens twee persone by Santram ingedien en die geld in die rekeninge van die kinders inbetaal.In die eerste geval is ‘n eis namens ene A Baartman ingedien wat glo ‘n Samsung-selfoon in ‘n motorongeluk verloor het. Die selfoonnommer wat gebruik is om die eis in te dien, is op haar naam geregistreer.
In die tweede gaval is ‘n eis namens ene R Witbooi by Santam ingedien vir ‘n selfoon en skootrekenaar wat glo gesteel was en ‘n bedrag van R9 450 in een van die kinders se rekeninge inbetaal is. Bowkers het oor albei eise gesê dat sy nie daarvan kennis dra nie.
Volgens haar het sy die rekeninge oopgemaak om vir hul seuns se studies te betaal.
Volgens die staat het sy egter self geen geld daarin betaal nie, behalwe Santam.
‘n Stemdeskundige het getuig dat dit dit haar man se stem was wat die eise ingedien het en haar selfoon daarvoor gebruik is.
Adv Pieter van Wyk verskyn vir Desiree Bowkers en Wenzel Botha van die regshulpraad namens Ricardo Bowkers.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'