BEAUFORT-WES NUUS - Die polisie se veediefstaleenheid op Beaufort-Wes het vanjaar weggestap met twee van drie toekennings deur Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee.
Die komitee maak jaarliks tydens hulle jaarkongres drie toekennings aan die SAPD. Twee van die toekennings wat op 26 Julie gemaak is, het Beaufort-Wes toe gegaan.
Die BKB-wisseltrofeë vir die beste veediefstaleenheid is aan Beaufort-Wes-veediefstaleenheid toegeken waar kapt. Tiaan van Zyl die bevelvoerder is. Die beoordeling word aan die hand van die polisie se produksie-inligting vir die 2017/2018 boekjaar van die eenhede en lede gedoen. Volgens die beleidskomitee lewer die lede van dié eenheid uitsonderlike werk. Hulle gaan uit hulle pad om misdadigers aan die kaak te stel, te arresteer en voor die hof te bring.
Die tweede toekenning wat dié eenheid ontvang het was die BKB-wisseltrofee vir beste lid van 'n veediefstaleenheid. Dit is vir die tweede agtereenvolgende jaar aan sers. TS Moletsane toegeken vir sy bydrae tot die bekamping van veediefstal.
Sers. TS Moletsane is vir die tweede jaar aange-wys as die beste lid van 'n veediefstaleenheid.
Die toekenning vir die beste SAPD-kluster vir landelike beveiliging is aan Tulbagh SAPD onder bevel van sers. Carl Klein gegee.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'