KAROO NUUS - Sers. TS Moletsane, van die Beaufort-Wes se veediefstaleenheid, het 'n toekenning ontvang as die beste lid van 'n veediefstaleenheid.
Volgens Jeanne Boshoff, kommunikasie-bestuurder van Agri Wes-Kaap, gee die Wes-Kaap Veediefstalkomitee, wat onder die RPO Wes-Kaap ressorteer, jaarliks toekennings aan die beste lid van 'n veediefstaleenheid en die beste veediefstaleenheid in die provinsie.
"Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee gee ook jaarliks 'n toekenning aan die beste landelike veiligheidskoördineerder. Al die toekennings is tydens Agri Wes-Kaap se jaardinee, op 25 November oorhandig."
Volgens haar het sers. Moletsane in die 2019/2020 finansiële jaar 58 sake ondersoek waarvan 45 uit 66 arrestasies in die hof gaan draai het. In 34 van die 45 sake wat hof toe is, is skuldigbevindings bereik.
Luitenant-kolonel Johan Smit, Wes-Kaapse koördineerder van veediefstal van die SAPD, sê Moletsane is 'n gedissiplineerde, toegewyde, gedetermineerde en hardwerkende lid.
"Hy respekteer altyd die klaers, verdagtes, aangeklaagdes, hofbeamptes, ander lede en sy senior kollegas. Hy kom altyd besonder goed voor en mense bewonder sy vermoëns, sy dissipline en sy entoesiasme om sake op te los. Optrede wat deur hom uitgevoer word, word altyd behoorlik beplan en uitgevoer binne die kortste tydsraamwerke, met min hulpbronne en uitgawes. Ondersoeke wat deur hom gedoen word, word behoorlik en buitengewoon goed gedoen om te verseker dat sake op hofrolle geplaas word en om skuldigbevindings te verseker. Hy besef sy doelstellings en verantwoordelikhede en gee net sy beste om sy doelwitte te bereik."
Molestane word ook beskryf as 'n gedetermineerde persoon wat voortdurend op soek na geleenthede om sy kennis op sy huidige gebied uit te brei.
Jaco van den Berg, voorsitter van die Wes-Kaap veediefstalkomitee, sê Moletsane se toewyding aan veeprodusente verdien erkenning. "Ondersoekbeamptes van sy kaliber is 'n aanwins vir die landbousektor. Ons het net die hoogste agting en respek vir die erns waarmee hy sy werk doen."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'