Die hotel is in die 1990's deur die Nic Barrow Familietrust gekoop en oor die jare het Nic en sy vrou Ferda die hotel pragtig gerestoureer en daarin geslaag om die ou-wêreldse karakter en atmosfeer te bewaar.
Die egpaar is Sondag deur die Suid-Kaaptak van die Stigting Simon van der Stel vir hul bydrae om die kultuurhistoriese erfenis van Oudtshoorn te bewaar, vereer.
Volgens Hazel Jonker wat 'n groot deel van haar tyd aan die beskerming van Oudtshoorn se erfenis wy, het die Barrows 'n groot bydrae gemaak om die hotel so oorspronklik as moontlik te bewaar. "Ons kan net hoop dat die nuwe eienaars die Barrows se voorbeeld sal volg en daarop voortbou."
Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs het oor die jare in die Queen's hotel tuisgegaan. Selfs die Britse koninklike gesin het in 1947 'n nagrus daar geniet. Die nuwe eienaar van die Queen's Hotel is Crimson Sunrise Properties, waarvan die meerderheid aandeelhouers plaaslike sakemanne is.
Die groep het op 30 Oktober eienaarskap van die gebou geneem. Barrow het 'n aantal jare gelede ook die Queen's Mall verkoop en het aangedui dat hy geleidelik sy ander eiendomme in die dorp ook gaan verkoop. Hy is die eienaar van die Riempie Protea hotel en die Rozenhof gastehuis. Barrow se kop staan Franschhoek toe waar hy 'n wynplaas, Bacarat Wines, gevestig het.
Die bekende Queen's Hotel in Baron van Reedestraat, wat sy ou-wêreldse sjarme en atmosfeer behou het, is onlangs verkoop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'