Die ondersoek deur Mohlaleng Media het belastingbetalers glo reeds sowat R760 000 uit die sak gejaag.
Hierdie aantygings is Dinsdagaand by die Oudtshoorn Belastingbetalersvereniging se jaarvergadering gemaak. Die voorsitter, Nic Barrow het ‘n dokument wat oor ‘n nuwe logo vir die dorp handel aan die gehoor gewys en gesê Burgemeester Gordon April en voormalige Munisipale Be-stuurder, Noël Pietersen is die twee voorbokke wat die naamsverandering dryf. "Dit is absoluut belaglik. Die voorgestelde logo is lagwekkend, maar wat die naam betref weet ek net dit eindig met ‘n "kwa". My bronne kon nie mooi hoor wat die volle naam is nie. Om ‘n naam soos Oudtshoorn te verander maak in ‘n toerisme-opsig geen sin nie. Dit is waansinnig."
Barrow het gesê die bladsy kom uit ‘n dokument wat Dinsdag by ‘n munisipale werkswinkel bespreek is.
Die Oudtshoorn Courant het die bladsy by hom gekry en die nuwe voorgestelde logo van Oudtshoorn verskyn hier onder. In die dokument is daar egter nêrens sprake van ‘n naamsverandering nie, en word net die korporatiewe identiteit en bemarking van Oudtshoorn aangespreek.
Die waarnemende munisipale bestuurder Mpho Mogale het by navraag nie prontuit ontken dat ‘n naamsverandering beoog word nie en die volgende antwoord per e-pos gestuur: "Please rest assured that the question of a name change was never mentioned by Council. The municipality has appointed a service to assist the municipality with, amongst others, the development of a brand that will be used to profile and market the municipality. A draft brand has been developed and a presentation was made to a Council workshop on Tuesday. Any new initiative will be signed off by Council before it can be implemented."
Barrow sê egter April en sy ‘cronies’ het die kuns vervolmaak om by die agterdeur in te sluip en hulle sin te kry. Hy het verskeie voorbeelde genoem soos die toename in die aankoop van munisipale voertuie, Pietersen se skeidingspakket en ‘n onlangse advertensie vir adviseurs in die munisipale bestuurder se kantoor wat volgens hom wys hulle erken hulle kan nie self die werk doen nie.
Volgens Barrow het die Wes-Kaapse premier, DA-leier Helen Zille en die Provinsiale Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, Oudtshoorn afgeskryf. "Ek stel voor ons as belastingbetalers gaan sien Bredell en vra hom reguit wat is sy pro-bleem. Hulle het ‘n wetlike verpligting om in te gryp."
Sowat 150 mense het die vergadering bygewoon en hulle ontevredenheid luidkeels verkondig. Tussenwerpsels soos "Ons is bekommerd", "Die Here hoor ons" en, verwysend na Bredell, "He couldn’t care less!" is gehoor.
Bredell het Woensdag by navraag aan die Oudtshoorn Courant gesê hy en Helen Zille en die Wes-Kaapse leier van die DA, Theuns Botha sal vroeg volgende jaar ‘n openbare vergadering in Oudtshoorn kom hou. "Mense gaan dit baie interessant vind. Wat baie nie besef nie is dat ek streng wetlike prosesse in terme van die ‘Inter Governmental Relations Act’ moet volg, anders loop al my pogings uit op niks. In Overstrand het ek die munisipaliteit onder administrasie geplaas en is ek bloedneus geslaan oor presies sulke wetlike prosesse. Dit is frustrerend en vat tyd, maar dit is nou eenmaal hoe dit werk. Die mense van Oudtshoorn word nie vergeet nie - wees asseblief tog net geduldig."
DA-koukuswoorvoerder, Chris Mac-Phersen het gesê April is nie in staat om die begroting te hanteer nie en maak los en vas veranderings aan sy uitvoerende burgemeesterskomitee. "Sy eie raadslede weet hulle tree onwettig op, maar steek maar hulle hande op om saam met hom te stem, want as hulle dit nie doen nie, word hulle afgedank. Die Wes-Kaapse ANC leier, Marius Fransman se belange word ten alle tye beskerm."
Barrow het gesê om belasting te weerhou sal nie werk nie, aangesien dienslewering darem nog in Oudtshoorn plaasvind. "Die korrupsie en wanpraktyke wat nou voortduur is egter die voorloper van dienste wat ineen gaan stort en ons moet iets doen voor dat dit gebeur."
Die belastingbetalersvereniging het besluit om ‘n verteenwoordiger in elke wyk te verkies en om so gou moontlik ‘n afvaardiging te stuur om Zille en Bredell in Kaapstad te gaan sien.
Die gehoor lyk mismoedig, maar die gemoedere het hoog geloop op die Oudtshoorn Belastingbetalersvereniging se vergadering Dinsdagaand.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR