OUDTSHOORN NUUS - Die nuus dat Nigel Cupido, balju van Oudtshoorn, hierdie week op voertuie van die Kannaland-munisipaliteit sou beslag lê, het soos 'n veldbrand deur die streek versprei.
Die munisipale bestuurder van Kannaland, Reynold Stevens, het inwoners egter vinnig gerusgestel dat die beplande beslaglegging op 'n siviele eis van 'n toeris berus en intussen afgeweer is nadat die eis ten volle betaal is.
Stevens het Dinsdag aan die media verduidelik dat 'n Amerikaanse toeris, Molly-Ann Smith, tydens 'n besoek in 2007 haar enkel op 'n beskadigde sypaadjie op Calitzdorp beseer het.
Sy het die munisipaliteit daarna vir pyn en lyding gedagvaar. Die munisipaliteit het die eis teengestaan, maar die hooggeregshof het ten gunste van Smith beslis.
Volgens Stevens het die vorige munisipale bestuurder egter versuim om die munisipaliteit se regspan opdrag te gee om te appelleer. Stevens noem dat hulle 'n poging wou aanwend om die situasie sonder finansiële implikasies te beredder, maar dat onderhandelinge oor twee kontinente heen sou moes plaasvind en dit die proses sou bemoeilik.
Volgens hom moes hy verskeie ekonomiese faktore oorweeg en daar was ook ander krediteure wat betaal moes word.
Dit blyk dat Smith nie in 'n afbetalingsooreenkoms belanggestel het nie en dat 'n aanvanklike deposito van R100 000 aan haar betaal is. Stevens is van mening dat die totale eis destyds afgeweer kon word indien die munisipaliteit beter regsverteenwoordiging gehad het.
Die besluit om die eis ten volle te betaal is geneem nadat daar oorweging geskenk is aan die koste-implikasies van 'n nuwe hofsaak en die invloed wat dit op dienslewering sou uitoefen.
Stevens is ook van mening dat die beserings wat volgens mediese verslae opgedoen is, nie die enorme bedrag wat geëis is regverdig nie.
Hy het inwoners die versekering gegee dat hulle gereeld oor kwessies ingelig sal word en dat dienslewering steeds sy eerste prioriteit is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'