OUDTSHOORN NUUS - Twee jong baldansers van Oudtshoorn, Carson Solomons (16) en Amber Saaiman (13), het op 3 November aan die Wes-Kaapse Baldanskampioenskappe deelgeneem waar hulle ‘n eerste plek in baldans en ‘n tweede plek in die latynse dans los gedans het.
Carson is ‘n gr. 10-leerder by Langenhoven Gimnasium en Amber is 'n gr. 7-leerder by Laerskool Wesbank.
Hierdie danspaartjie het eers in 2016 saam begin dans, maar het reeds in ‘n kort tydjie baie sukses op die dansbaan gehad.
In hul eerste jaar het hulle hul eerste groot sukses behaal na hulle 'n tweede plek by die SA Kampioenskappe in Sun City in baldans en latynse dans los gedans het.
In 2017, by dieselfde kampioenskappe, het hulle verbeter op hul vorige jaar se tweede plek in baldans deur hierdie keer as algehele wenners in dié kategorie gekroon te word.
Volgens Gaynore Swartz, Amber se ma, word die twee jongelinge se sukses toegeskryf aan harde werk en absolute kameraadskap.
“Albei oefen verskriklik hard tydens sessies, en wanneer die een se gemoed bietjie af is, sal die ander een dit weer opkikker met 'n grappie," het sy gesê.
Intussen het Carson en Amber baie goeie nuus ontvang. Hulle het nou opgeskuif na ‘n hoër dansvlak (novis), en oefen reeds baie hard vir die SA Baldanskampioenskappe wat vanaf 13 tot 15 Desember in Oos-Londen sal plaasvind.
Amber Saaiman (links) en Carson Solomons met hul bekers en sertifikate wat hulle by die Wes-kaapse Baldanskampionskappe ingepalm het. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'