LADISMITH NUUS - Danksy bystand van die departement van sosiale ontwikkeling via Oasis-gemeenskapsprojekte in Van Wyksdorp, is die bekende Flink-bakkery in Ladismith na jare weer op die been.
Volgens Raymondo Flink is hy die derde eienaar na sy pa en oupa (beide oorlede) en vorm dié bakkery deel van hul familie se kruidenierswinkel (Flink Cash Stores) wat reeds vir dekades besigheid in die dorp doen.
Raymondo vertel dat die bakkery sewe jaar gelede ongelukkig weens finansiële redes moes toemaak.
"Dit was 'n moeilike tydperk vir ons omdat ons ook die eerste en enigste bakkery in Nissenville-buurt was en mense gewoond was dat ons brood aan hulle verskaf. Daar was egter lig aan die einde van die tonnel toe ons bystand van die departement ontvang het. Ons is baie dankbaar vir Oasis se bystand en alhoewel daar nog hier en daar steeds uitdagings is, hoop ons dat ons vorentoe heeltemal onafhanklik en volhoubaar kan wees."
Raymondo sê verder dat hy tans besig is met 'n drie maande vaardigheidprojek waar aspirantbakkers die fynere kunsies touwys gemaak word.
Die Flink-bakkery kan enige bakkuns onder die son hanteer wat tema-koeke, akkerbrood, gewone brode, Ouma-brood, beskuit en enige tipe pasteie insluit.
Tans verskaf Flink-bakkery vir alle geregistreerde sopkombuise brood in die omgewing wat dit weer op hul beurt aan die gemeenskap in nood uitdeel. Vir enige navrae kontak 078 047 8720.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’