Angeline Jaftha, skoolhoof van Babbels en Krabbels wat ongeveer 120 babas en kleuters versorg verduidelik dat die fondse wat hulle van die Departement van Sosiale Ontwikkeling ontvang nie voldoende is om al die skool se kostes te dek nie, selfs nie eers al die salarisse word gedek nie.
Dan is daar ook baie kinders wie se ouers nie in staat is om die R60 skoolgelde per maand te betaal nie. Dit noop die personeel om gereeld projekte aan te pak om addisionele fondse in te samel.
Die volgende projek op die skool se kalender is die viering van hulle 21ste bestaansjaar op 28 September. Die verjaarsdag word gevier met 'n ouer- en gemeenskapsfunksie. Die organiseerders van die funksie doen 'n beroep op die sakegemeenskap en publiek om skenkings te maak van voedsel wat gebruik kan word vir die ete tydens die funksie.
In hulle versoek wat aan die media gestuur is vra hulle bydraes van aartappels, groente, kookolie, vrugte, hoender, vis, kaas, maalvleis en melk. Hulle benodig ook plante wat hulle kan leen om die saal te versier.
Instansies wat bereid is om die skool by te staan kan die organiseerders, Mee. C Michaels en A Hess kontak by 044 274 1127.

Die personeel van Babbels en Krabbels en 'n paar van die 120 kleuters in hulle sorg. Van links is: Grezenda, Tiema Michaels, Cornelia Carelse, Almeira Hess, Angeline Jaftha en Diane Kister.
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR