OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n vrou van Dysselsdorp, wat van moord op haar pasgebore seuntjie byna vier jaar gelede aangekla word, het uiteindelik in die Oudtshoorn-streekhof begin.
Heroldene Korkee (39) pleit onskuldig en sê in haar verklaring dat sy glo nie bewus was van haar swangerskap nie. Die baba is na erge pyne in 'n toilet gebore en toe na bewering versmoor. Daar is 14 staatsgetuies in die saak.
Een van die getuies is Sabina Mei, wat die betrokke dag, 15 Oktober 2016, "uit nuuskierigheid" die huis van Korkee binne is nadat sy gehoor het van 'n vrou wat geboorte geskenk het. Sy het getuig dat sy die beskuldigde op die toilet sien sit het en het gevra of sy kan kyk wat aangaan.
"Ek het haar gevra om eenkant toe te skuif om te sien of die baba nog leef en of ek kan help. Die baba het egter stil in die toiletpot gelê." Volgens haar het sy nie die vrou geken nie en sy het huis toe gegaan omdat "daar niks was wat ek vir die dame kon doen nie".
Sy het ontken dat sy die beskuldigde gehelp het om op te staan. Volgens haar sou sy die beskuldigde gehelp het na 'n bed of die vloer om geboorte te gee indien sy vroeër daar sou wees.
Jenifer Jaftha, 'n paramedikus, het getuig dat sy ook vir Korkee op die toilet aangetref het. Sy het haar onder die een arm gevat om haar tot by 'n bed te help en die baba toe in die toiletpot sien lê.
Korkee se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Mei en Jaftha gestel dat hul getuienis in die hof verskil van hul polisieverklarings. Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir verdere getuienis tot 1 September uitgestel.
Hyron Goulding is die aanklaer en Korkee se borgtog en borgtogvoorwaardes is deur die hof verleng tot haar volgende hofverskyning.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'